已收录 268921 条政策
 政策提纲
  • 暂无提纲
Die rol van taalaktivisme by die herwaardering van moedertaalonderrig in Suid-Afrikaanse skole
[摘要] Afrikaans: Op 8 Mei 1996 het die Grondwetlike Vergadering van die Republiek van Suid-Afrika 'n nuwe demokratiese grondwet aanvaar. Die Grondwet maak voorsiening vir 'n redelike aantal klousules betreffende taalkwessies. Dit maak onder meer voorsiening vir elf amptelike tale wat die veeltalige en multikulturele aard van ons samelewing weerspieël. Die Nasionale Regering maak sy standpunt oor taal in die onderwys in die 1996 Suid- Afrikaanse Handves van Menseregte duidelik. Hieruit blyk dit duidelik dat die Departement van Onderwys die ontwikkeling van veeltaligheid binne die raamwerk van toevoegende tweetalige onderwys beklemtoon. Skole word byvoorbeeld sterk aanbeveel om ten minste twee tale van onderrig vanaf Graad 1 aan te bied, waarvan een van die twee tale die huistaal van die leerder moet wees. Hierdie positiewe doelwitte ten spyt, blyk dit dat die teenoorgestelde in die praktyk gebeur. Al meer klagtes kom na vore, veral uit die geledere van die minderheidstale (Afrikaans en die Afrikatale) dat hul tale, as tale van onderrig, gemarginaliseer word. 'n Positiewe ontwikkeling is egter die steun vir moedertaalonderrig, veral ook uit gemeenskappe wat tradisioneel gesien was as sou hulle ten gunste van Engelsonderrig wees. Hierdie herwaardering van die rol van die moedertaal in onderrig kan toegeskryf word aan bepaalde taalaktivistiese inisiatiewe wat sedert 1994 van stapel gestuur is. Hierdie studie ondersoek die rol wat taalaktivisme by die terugkeer na moedertaalonderwys in Suid-Afrika na die vestiging van 'n demokratiese taalbestel in die land speel. Die siening dat gemeenskappe apaties staan teenoor taalregtekwessies in die onderwys wat deur politieke en ander drukgroepe teweeggebring word wat die status quo ten opsigte van die bevordering van Engels as onderrigmedium ten koste van die minderheidstale wil bevorder, is ondersoek. Dit is gedoen deur te bepaal: (a) hoe wydverspreid die verskynsel van taalaktivisme in Suid-Afrika voorkom, (b) die vorme (indien enige) waarin taalaktivisme onder die verskillende taalgemeenskappe figureer, (c) of daar inderdaad 'n herwaardering van moedertaalonderrig is, en (d) watter rol (indien enige) taalaktivisme by die herwaardering van moedertaalonderrig speel. Hoofstuk 2 bied 'n uiteensetting van die teoretiese agtergrond waarteen die studie onderneem is. Dit bied 'n literatuuroorsig oor taalaktivisme as verskynsel (en die rol daarvan binne die taalbeplanningsveld) en hoe dit in moedertaalstryde in die wêreld manifesteer, veral met betrekking tot die onderwys. Verskeie definisies van taalbeplanning as insluitende proses, en dus nie slegs as 'n aksie van bo-na-benede nie, is ondersoek. Die rol wat gemeenskappe in die beïnvloeding van taalbeleid speel, word aan die hand van verskeie definisies wat in die literatuur rakende taalregte-aktivisme bestaan, ondersoek. Die aanwending van die instrumente van taalaktivisme, soos ontwikkel deur Martel en later Lubbe en Du Plessis, word in hierdie situasies ondersoek. Aan die einde van die hoofstuk word tot die slotsom gekom dat wisselwerking tussen regerings- en gemeenskapsorganisasies ʼn uiters belangrike rol in die behoud en ontwikkeling van die kulturele en linguistiese erfenis van enige gemeenskap kan speel. Hoofstuk 3 bied 'n oorsig van die kwalitatiewe navorsingsontwerp en -metodologie wat in die studie gevolg is. Vir die doel van hierdie ondersoek word ʼn literatuur-, dokumenteen empiriese studie, wat die ontleding van mediaknipsels behels, uitgevoer. Dit verskaf 'n uiteensetting van die metodes wat gevolg is om inligting uit die literatuur (beide nasionaal en internasionaal), tersaaklike dokumente en mediarekords wat vir die doeleindes van die studie geselekteer is, te verkry. Dit gee ook 'n uiteensetting van die strategieë wat gevolg is ten einde geldigheid en betroubaarheid te verseker. Die studie word gedoen aan die hand van die tipologie van die instrumente van taalaktivisme wat deur Martel (1999) bekendgestel en deur Lubbe et al. (2004) asook Du Plessis (2006) verder ontwikkel is. Die tipologie onderskei tussen die hoofinstrumente van taalaktivisme wat deur taalaktiviste aangewend word en gee ook 'n waardering van watter instrumente meer sukses kan behaal. Die analise is aan die hand van die definisies van taalaktivisme en die sosiale bewegingsteorie soos in Hoofstuk 2 behandel, gedoen. Hoofstuk 4 bied 'n historiese agtergrond tot taalbeplanning en taalbeleidsontwikkeling in Suid-Afrika. Die hoofstuk belig die hoofmomente binne die politieke konteks van taalbeleidsontwikkeling. Hier word gepoog om, deur die studie van die tersaaklike literatuur, die rol van taalaktivisme in Suid-Afrika aan te toon. Studies wat oor taalaktivisme en moedertaalonderrig handel, sowel as amptelike dokumente rakende taal in die onderwys word hier gebruik. Die tydperk 1652 (die begin van die Koloniale tydperk) tot na 1994 (die demokratiseringstydperk) word hier gedek. In Hoofstuk 5 word die bevindinge wat na aanleiding van die media-analise vir die tydperk 1994 tot 2005 gemaak word, behandel. Daarna volg ʼn kritiese analise en interpretasie van die bevindinge ten einde vas te stel watter rol taalaktivisme by die herwaardering van moedertaalonderrig in Suid-Afrika gespeel het. Daar word tot die slotsom gekom dat taalaktivisme wel binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap plaasgevind het. Ook dat die twee hooftradisies van taalaktivisme steeds figureer, maar dat daar tekens is dat beide kante van die spektrum wel bereid is om inklusief saam te werk tot ʼn groter demokratiese onderwysbestel. In die laaste hoofstuk word 'n opsomming aangebied van die bevindinge in die verskillende hoofstukke. 'n Sintese van die bevindinge word aangebied na gelang van die probleemvrae soos in Hoofstuk 3 uiteengesit. Gevolgtrekkings word gemaak, gebaseer op die bevindinge, en aanbevelings word dan gemaak rakende ondersoeke na verdure probleemareas en moontlike oplossings.
[发布日期]  [发布机构] University of the Free State
[效力级别]  [学科分类] 
[关键词]  [时效性] 
   浏览次数:4      统一登录查看全文      激活码登录查看全文