Die liedkuns van Beethoven, met besondere verwysing na die woord-toonverhoudings in die klavierbegeleide sololiedere
[摘要] Afrikaans: Ludwig van Beethoven (1770 - 1827) het 89 vokale komposisies nagelaat wat omskryf kan word as liedere vir solostem, en wat voorsien is van klavierbegeleiding. Die liedere het ontstaan tussen die jare 1783 en 1820 en dek dus die grootste gedeelte van sy loopbaan as skeppende kunstenaar. Anders as wat die geval is met sy simfoniese musiek en kamermusiek, het die liedere, op enkele uitsonderings na (bv. io, 46, op. 48 en op.98), weinig aansien geniet. Dié situasie, wat vandag nog merkbaar is, en ook in die gebrekkige literatuur oor dié onderwerp weerspieël word, het sy oorsprong in sekere aspekte van die 18de-eeuse liedestetika. Hiervolgens is die 18de-eeuse lied nie primêr as kunsuiting gesien nie, maar as 'n soort gebruiksmusiek met bepaalde funksies, waarvan huislike tydverdryf een was.Dienooreenkomstig wrod alle 18de-eeuse liedtipes in Beethoven se liedkuns verteenwoordig. Invloede vanuit die Italiaanse en Franse opera, liedere in die Volkston, gesellige gemeenskapsliedere, patriotiese en krygsliedere, ligte liefdesliedere, die Protestantse koraal en kerkstyl en deklamatoriesgerigte liedere is nawysbaar. Etlike liedere het hul oorsprong in die instrumentale sfeer. Vormtegnies is die terrein ook omvangryk, en dek tweeledige en drieledige vorme, deurgekomponeerde liedere van kleiner en groter omvang, en (sedert 1809) die gevarieerde sirofiese lied.Beethoven se ontwikkeling as liedkomponis is duidelik waarneembaar in die keuse van tekste vir sy toonsettings. Waar die vroeë liedpogings grotendeels stylkopieë van die heersende styl is, en ook tekstueel stereotiep vertoon, tree sedert ca. 1795 'n groter persoonlike betrokkenheid tot die tekskeuse na vore. So het die krisisjaar 1802 'n direkte neerslag gevind in die toonsetting van tekste met filosofiese en lewensbeskoulike inslag, wat sedert 1813 merkbaar word, kan verklaar word in terme van persoonlike omstandighede. Tekste met 'n motto-agtige inslag is kenmerkend vir die grootste gedeelte van Beethoven se loopbaan as liedkomponis.Die komponis se persoonlike betrokkenheid by die teks vind musikale uiting in 'n benadering wat as uniek vir die liedkuns bestempel kan word. Die groot getal liedsketse, asook pogings om dieselfde teks meermale te toonset, is 'n sekere aanduiding van Beethoven se strewe n deklamatoriese korrektheid enersyds, en teksegese andersyds. Sy benadering in dié verband word saamgevat in twee riglyne, nl. die musikale verheffing bo die (middelmatige) digter, en die musikale uitdrukking van tekste met 'n inwondende waardigheid. In dié proses word middele uit die terrein van die metriek, retoriek en toonsimboliek op selfstandige en oortuigende wyse betrek.Beethoven se posisie as bemiddelaar tussen die 18de-eeuse liedpraktyk en die 19de-eeuse kunslied is onomstootbaar. Voorlopers van die stemmingslied (Schubert, Schumann) en deklamatoriese lied (Wolf) is reeds by Beethoven te vinde. Begrip v ir die Liederkreis/liedsiklus-idee van die 19de eeu kan slegs verkry word indien kennis geneem word van Beethoven se vernuwing in dié opsig.
[发布日期] [发布机构] University of the Free State
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]