Die 'produksie van teenwoordigheid in Marlene van Niekerk se kortverhaalbundel, Die sneeuslaper
[摘要] Die geesteswetenskappe, en spesifiek letterkunde en literatuurstudies, loop toenemend deur onder kritiek oor die relevansie van letterkunde in die 21ste eeu. Die letterkundige Hans Ulrich Gumbrecht reken egter dat die probleem nie is dat fiksie irrelevant geword het nie, maar dat die suiwer hermeneutiese manier waarop letterkunde gelees word, gelei het tot 'n reduksionistiese beskouing van letterkunde. Gumbrecht reken dat dit moontlik is om taal op so 'n wyse aan te wend dat dit die leser weer nader kan bring aan die wêreld waarvan hy grootliks verwyderd voel. Hierdie konsep noem hy die 'produksie van teenwoordigheid, en hy identifiseer sewe wyses waarop taal kan funksioneer om só 'n 'teenwoordigheidseffek te bewerkstellig. Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper word in hierdie studie ondersoek deur gebruik te maak van Gumbrecht se konsep van die 'teenwoordigheidseffek van 'n literêre teks. Die 'produksie van teenwoordigheid word egter in 'n spanning teenoor die hermeneutiese aspek, die betekenis of interpretasie, en teenoor die 'sosiale betrokkenheid van letterkunde ondersoek – 'n spanning wat deurgaans in Van Niekerk se oeuvre teenwoordig is. Gumbrecht se voorstel om die 'teenwoordigheidseffek van 'n teks te ondersoek, lei daartoe dat Die sneeuslaper gelees kan word as 'n bydrae tot die breër besinning oor die rol en relevansie van letterkunde, kuns en kunskritiek in ons samelewing, en die manier waarop kunswerke ervaar word. Benewens Gumbrecht se idee van teenwoordigheidsproduksie, sal daar ook aangesluit word by Wolfgang Iser se 'werkingsestetika waarvolgens hy aandui dat literêre tekste 'strukture uit die werklikheid neem en herrangskik om daardie strukture op 'n vars en nuwe wyse in die literêre teks te belig. In die proses word tekortkominge of probleme van hierdie 'strukture uit die buite-tekstuele wêreld duidelik. Met behulp van Iser se teorie, word aangedui hoe Van Niekerk in die vier verskillende verhale die leser dwing om bestaande, hermeneutiese aannames oor die letterkunde en literêre tekste te heroorweeg. Die idee dat tekste betekenis moet inhou, sluiting moet bied of noodwendig sosiopolitieke betrokkenheid moet toon word uitgedaag. In ruil ondersoek Van Niekerk eerder die mate waartoe 'n benadering wat gerig is op die 'estetiese ervaring van literêre tekste, voorafopgestelde idees en aanvaarde strukture kan belig ten einde die leser se persepsies oor daardie strukture te wysig. Daar sal aangedui word hoe Van Niekerk taal aanwend om ook 'n teenwoordigheidseffek te bewerkstellig, en in die proses die leser, soos wat Gumbrecht voorstel, vir 'n oomblik 'tot stilstand dwing.
[发布日期] [发布机构] University of Pretoria
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]