Die ervarings van hoërskoolleerders met liggaamlike gestremdhede
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: Hierdie studie was onderneem om insig te bekom oor hoёrskool leerders met 'n liggaamlike gestremdheid se ervaringe. Kwalitatiewe navorsing is gedoen ten einde begrip en insig te ontwikkel omtrent die kernaspekte ter bevordering van effektiewe insluiting van adolessente met 'n liggaamlike gestremdheid tot die hoofstroomskool. Die narratiewe ondersoek as ontwerp was gepas juis omdat so 'n ontwerp kreatiewe ruimte laat vir die deelnemers om die betekenis wat hulle aan hul lewenservarings heg, te verwoord. Die deelnemers is die geleentheid gebied om in hul eie woorde en op hul eie manier hul storie te vertel van hoe hulle met 'n gestremdheid hoёrskool ervaar. Die primêre metodes van ondersoek was semi-gestruktureerde onderhoude, een fokusgroeponderhoud en die skep van kollages.Die deelnemers is huidiglik in die adolessensie fase wat hulle op dieselfde emosionele en fisieke ontwikkelingsvlak as hul portuur plaas. Die verskil word gemanifesteer in hoe die adolessente met liggaamlike gestremdhede hulself sien en hoe die reaksies van hulle portuurgroep oor hulle gestremdhede hulle selfbeeld beïnvloed. Beter insig in die realiteit van hul ervarings, hulle gevoelens en uitdagings kan beter ondersteuning aan dié adolessente moontlik maak.Die proses van data-analise het vyf temas opgelewer, naamlik: skoolkeuse, sosiale lewe, ondersteuning, reaksies op gestremdhede en uitdagings. Die kernaspekte hieraan verbonde berus hoofsaaklik op die houdings en sieninge van die hele skoolgemeenskap, die aanspreek van die uitdagings, die benutting van spesifieke onderwys- en onderrigstrategieё ter bevordering van insluiting en die erkenning van die waarde wat die insluiting van adolessente met liggaamlike gestremdhede tot hoofstroom-onderwys toevoeg.Die bevindinge dui daarop dat, alhoewel die reaksies op hul gestremdheid meesal negatief is, word die adolessente deur die positiwiteit van 'n minderheid aangemoedig om uitdagings te oorbrug. Negatiewe ervarings sluit in struktureleuitdagings, gevoelens van hartseer, eensaamheid, uitsluiting, verwerping, frustrasie, onvergenoegheid, angstigheid en geїrriteerdheid. Positiewe ervarings sluit in vaardighede, bekwaamheid, talente, interafhanklikheid, volhoubare ondersteuning en vriendskappe sowel as geleenthede vir interaksie met hulle portuurgroep, veral die van die teenoorgestelde geslag. Die studie het ook leemtes uitgewys in terme van die onvermoё van die onderwysowerheid om hulle insluiting in die hoofstroom te fasiliteer by wyse van infrastruktuur sowel as bewusmakingsveldtogte en die daarstelling van programme om adolessente met 'n liggaamlike gestremdheid te ondersteun.
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]