Van plaas tot agterplaas : die uitbeelding van Afrikaners in Johannesburg in drie Hertzogpryswenners, en, 'n Duisend stories oor Johannesburg :'n stadsroman
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: Die eerste gedeelte van hierdie tesis is ʼn opstel met die titel Van plaas tot agterplaas: Die uitbeelding van Afrikaners in Johannesburg in drie Hertzogpryswenners en die tweede deel is ʼn roman getiteld ʼn Duisend stories oor Johannesburg. Die roman en die opstel hou tematies met mekaar verband. Soos die roman, speel al drie bekroonde werke in Johannesburg af met Afrikaners as sentrale karakters.Die bepaalde historiese konteks waarin elkeen van die drie pryswenners verskyn het, dikteer die invalshoek van die opstel, hoe die werk krities ontvang is, sowel as die rol en waarde wat deur die Afrikaner-instelling daaraan toegeken is. Daar sal verder in die bespreking getoon word watter rol die Hertzogprys in die skepping van die Afrikaner-instelling gespeel het. Die gebruik van die begrip en eienaam 'Afrikaner in hierdie bespreking verwys na die wit, Afrikaanssprekende, Christelike gemeenskap in Suid-Afrika, in die sin dat dit ooreenstem met die (uiters aanvegbare) stelling dat alle wit Afrikaanssprekers saamgevoeg kan word in ʼn organiese 'volkseenheid. Hierdie voorveronderstelling aanvaar ook dat hierdie 'Afrikanerdom tradisionele, konserwatiewe volkswaardes deel, en altyd beskikbaar is vir mobilisering ter wille van gedeelde Afrikaner-belange, soos deur Dan O‟Meara gedefinieer in sy Volkskapitalisme: Class, capital and ideology in the development of Afrikaner nationalism, 1934 – 1948 (1983:6). Hierdie kwessies word, onder meer, deur die polisisteemteorie van die Israeliese kultuurnavorser, Itamar Even-Zohar, asook J.B. Thompson se kritiese teorie van ideologie gedoen. Daar word ook na Jacques Rancière se teorie oor 'die verspreiding van die waarneembare (the distribution of the sensible) verwys.Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat die Hertzogprys van meet af aan in diens van die Afrikaner-instelling gestaan het en ten spyte van ʼn veranderende ideologiese landskap, ʼn voortgesette rol gespeel het in die daarstelling van die Afrikaner-repertoire. Binne die polisisteemteorie is die 'repertoire die versameling reëls en elemente wat die produksie van tekste bepaal. Die term 'instelling verwys na die faktore wat betrokke is by die instandhouding van die letterkunde as ʼn sosio-kulturele aktiwiteit.Die roman speel af in ʼn klein Johannesburgse hotelletjie, genaamd Mei Villa, in die buurt Belgravia, tydens ʼn uitbarsting van xenofobiese geweld in 2008. Binne ʼn raamverhaalstruktuur fokus die roman op twee karakters, naamlik die ontheemde argitek, Zweig van Niekerk, wat na 40 jaar na Johannesburg terugkeer, asook die hoteleienaar, die bekroonde maar mindere digter, Bosman Hiemstra. Omring deur hotelgaste en personeel met hulle uiteenlopende verhale, soek Zweig van Niekerk tevergeefs na die Johannesburg van sy jeug, terwyl Bosman Hiemstra met ewe min sukses ʼn tweede digbundel probeer skryf. Aan die einde van die boek begin die digter ʼn roman te skryf met sy gas se lewensverhaal as gegewe dalk ook die boek wat die leser pas klaar gelees het.
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]