已收录 268921 条政策
 政策提纲
  • 暂无提纲
Veerkragtigheidskenmerke van gesinne met ʼn kind met ʼn ernstige of uiterste intellektuele gestremdheid
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING : Intellektuele gestremdheid word operasioneel gedefinieer as ʼn gestremdheid wat gekenmerk word deur beduidende beperkings in beide intellektuele funksionering (intelligensie) en in aangepaste gedrag (konsepsionele, sosiale en praktiese vaardighede). Vir ʼn diagnose van intellektuele gestremdheid moet die gestremdheid voor die ouderdom van 18 jaar ontstaan. Vier vlakke van intellektuele gestremdheid kan onderskei word, naamlik ligte, matige, ernstige en uiterste intellektuele gestremdheid. Die versorging van ʼn kind met ʼn ernstige of uiterste intellektuele gestremdheid is ʼn lewenslange proses en lei tot stres wat alle lede van ʼn gesin fisies, emosioneel, kognitief en sosiaal beïnvloed.Die hoofdoel van hierdie studie was om vas te stel watter eienskappe en hulpbronne van gesinne hulle gehelp het om aan te pas nadat hulle kind met ʼn ernstige of ʼn uiterste intellektuele gestremdheid gediagnoseer is. Die studie is beplan en gedoen vanuit ʼn gesinsveerkragtigheidsperspektief. Veerkragtigheid verwys onder andere na die vermoë om terug te bons vanaf beduidende teenspoed; suksesvolle aanpassing gedurende stresvolle lewensgebeure; en positiewe uitkomste ten spyte van stresvolle omstandighede.ʼn Enkelvoudige dwarssnee navorsingsontwerp en ʼn kwalitatiewe navorsingsmetode is gebruik ten einde veerkragtigheidskenmerke by gesinne met ʼn kind met ʼn ernstige of uiterste intellektuele gestremdheid te identifiseer. Ten einde data te bekom, is in-diepte semi-gestruktureerde onderhoude met 11 ouerpare gevoer.Deur die gebruik van Braun en Clarke (2006) se tema-ontledingstegniek het vier hooftemas sowel as ʼn aantal sub-temas na vore gekom. Hierdie temas verteenwoordig strategieë wat volgens die deelnemende gesinne aan hierdie studie gehelp het om aan te pas by hulle omstandighede. Daar is bevind dat spirituele hulpbronne soos gebed, ʼn sterk geloof, geestelike ondersteuning en herformulering van ʼn krisis die deelnemende gesinne gehelp het om ʼn meer positiewe siening van hulle situasie te kry.Die sosiale ondersteuning van binne die gesin, vanaf die groter familienetwerk, van vriende en van die gemeenskap het ook ʼn belangrike rol gespeel ten einde die aanpassingsproses vir gesinne te vergemaklik. Vir een gesin het ondersteuning via die internet ook ʼn positiewe bydrae gelewer tot beter aanpassing in hulle gesin.Positiewe gesinseienskappe soos deursettingsvermoë, onderlinge liefde, geduld en humor het ook in sommige gesinne bygedra tot beter aanpassing. ʼn Vaste roetine in die huis is ook deur sommige gesinne aangedui as belangrik vir goeie aanpassing, maar terselfdertyd moet die gesin ook buigbaar wees en aanpassings in die roetines kan maak ten einde die lewe vir almal in die huis makliker te maak. Laastens is bevind dat goeie beplanning in verband met alledaagse aktiwiteite, sowel as beplanning in verband met die kind se toekoms, belangrik is vir beter gesinsaanpassing.Die bevindinge van hierdie studie word ondersteun deur veerkragtigheidsteorieë en kan dus gesien word as nuttige hulpbronne vir gesinne met ʼn kind met ʼn ernstige of uiterste intellektuele gestremdheid se aanpassing. Die bevindinge van die studie lewer ʼn bydrae tot bestaande kennis oor gesinsielkunde en veral oor gesinsveerkragtigheid in die Suid-Afrikaanse konteks.
[发布日期]  [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别]  [学科分类] 
[关键词]  [时效性] 
   浏览次数:7      统一登录查看全文      激活码登录查看全文