Werknemerbystandsprogramme vir wynkelderproduksiewerkers
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: Wynkelders, net soos ander organisasies, streef voortdurend daarna om beter kwaliteitprodukte te lewer, om meer produktief, meer koste-effektief en mededingend te wees. Laasgenoemde kan daartoe bydra dat die werkplek aanhoudend veranderinge moet ondergaan om winsgewindheid te bevorder en kan dus vir beide organisasies en werkers meer druk beteken. Gevolglik kan werkers meer werkstres wat verswakte werksverrigting kan bevorder, ervaar. Ook kan die gesinslewe unieke eise aan werkers stel. Om 'n balans tussen werkseise en die eise wat deur die gesinslewe gestel word, te handhaaf, bly vir die meeste werkers 'n uitdaging en 'n bron van stres wat hulle maatskaplike funksionering nadelig beïnvloed. Indien wynkelders kompeterend wil bly, is dit noodsaaklik dat werkers se algemene welsyn hoog op die agenda geplaas moet word.Die doel van hierdie studie is om wynkelderproduksiewerkers se privaat en werksverwante behoeftes, probleme en stressors wat stresvlakke en maatskaplike funksionering nadelig raak, te identifiseer en te begryp, ten einde te bepaal of werknemerbystandsprogramme hierdie kwessies moontlik sal kan help aanspreek. Die studie het beide 'n kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsingsbenadering gevolg. 'n Beskrywende en verkennende navorsingsontwerp is benut, aangesien dit moeilik was om literatuur oor werknemerbystandsprogramme, spesifiek binne die wynkelderkonteks, te vind. 'n Doelbewuste steekproef wat uit sestien (n=16) wynkelderproduksiewerkers bestaan het, is gebruik. Data is met behulp van 'n semi-gestruktureerde onderhoudskedule wat tydens individuele onderhoude met die deelnemers geadministreer is, ingesamel.Die vernaamste bevinding en gevolgtrekking vanuit die studie is dat wynkelderproduksiewerkers werkstres, sowel as stres in hulle gesinslewe ervaar. Gesamentlik het hierdie stres op beide die werkers se werksverrigting en maatskaplike funksionering 'n nadelige invloed. Die vernaamste aanbeveling is dat daar 'n behoefte bestaan dat wynkelders werknemerbystandsprogramme moet implementeer om werkers se stres te help aanspreek en om ook die wynkelder se algehele funksionering te verbeter. Laastens word voorstelle vir toekomstige navorsing gemaak. Dit sluit onder meer in dat verdere navorsing gedoen moet word wat op 'n omvattende behoeftebepaling oor die aard en omvang van werknemerbystandsprogramdienste, spesifiek binne die wynkelderkonteks, moet fokus.
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]