A capabilities approach to the judicial review of resource allocation decisions impacting on socio-economic rights
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING : Die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte, dikwels deur middel van administratiefreg, is ʼn voorvereiste van kritieke belang vir die transformasie van die Suid Afrikaanse samelewing. Hulpbronne is integraal tot die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte. Hulpbronne is egter beperk. Moeilike toedelingsbesluite moet dus gemaak word aangesien die vervulling van verskillende regte, en die kort- en langtermyn programme vir verligting van armoede, almal meeding om hulpbronne. Die primêre navorsingsvraagstuk wat hierdie proefskrif aanspreek is hoe Amartya Sen en Martha Nussbaum se vermoënsbenadering kan bydra tot die ontwikkeling van ʼn teoretiese paradigma vir die regterlike hersiening van die Staat se toewysingsbesluite wat ʼn impak op sosio-ekonomiese regte het. Hierdie proefskrif identifiseer sleutel raakpunte wat bestaan tussen die vermoënsteorie en die eienskappe van Suid Afrika se projek van transformerende konstitusionalisme. Sodra hierdie kernbeginsels geïdentifiseer is, moet dit deurgaans in die beoordelingsproses nagekom word.In hierdie proefskrif word die noodsaak vir die ontwikkeling van ʼn vermoënsgebaseerde hersieningstandaard vir besluite oor die toewysing van Staatshulpbronne bepaal. Dienooreenkomstig word ʼn vermoënsgebaseerde standaard vir hersiening ontwerp. Die gewigstoekenningsoefening wat die gradering van vermoëns vereis, is deeglik ontwikkel om voorsiening te maak vir gevalle waar uiteenlopende regte meeding om voorrang en hulpbrontoewysing, of waar lang- en korttermyn vermoënsverwesenliking meeding om hulpbronne. Daar word nietemin gewaarsku dat ʼn vermoëns-gesentreerde gewigstoekenningsoefening slegs haalbaar is indien die howe bereid is om sosio-ekonomiese regte substantief te vertolk. Die vertolking van die inhoud van die ter sake reg met verwysing na die vermoëns wat dit verteenwoordig in ʼn bepaalde historiese, sosiale en feitelike konteks maak die eerste fase van die twee-stap analise uit. By die tweede fase van die regte-ontleding kan ʼn vermoëns-gesentreerde proporsionaliteitsontleding toegepas word op die bevraagtekende toewysingsbesluit. Laastens word die kontoere van ʼn vermoënsbenadering tot remedies ondersoek, waarvolgens die doelmatigheid van ʼn remedie gemeet word aan die potensiaal om vermoënsrealisering te bewerkstellig.Aldus kan die howe die Staat dwing tot verantwoordingspligtigheid, ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid deur te vereis dat die Staat sy toewysingsbesluite verantwoord in die lig van die normatiewe konteks en doelwitte van sosio-ekonomiese regte. Indien redelike hulpbrontoewysingsbesluite vereis word, kan die howe help om te verseker dat die Staat sy hulpbronne aanwend vir sosio-ekonomiese vermoënsbewerkstelling op ʼn sistematiese vlak. Wanneer hulpbronne toegewys word om vermoënsbehoeftes te realiseer, word dit vir die sosio-ekonomies-benadeelde lede van ons samelewing moontlik om hul potensiaal te ontsluit en te kies om ʼn betekenisvolle lewe te leef. Sodoende word ʼn samelewing gekenmerk deur vryheid, menswaardigheid en gelykheid vir almal ʼn realistiese vooruitsig
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]