Die selfkonsep van studente wat hakkel : 'n verkennende ondersoek
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: Die verskynsel van hakkel word omgewe deur persoonlike belewenisse wat bydra tot die vorming van die selfkonsep van iemand wat hakkel. Die toenemende soeke na die oorsake, behandeling en genesing van hakkel lei waarskynlik tot die onderbeklemtoning van die wyse waarop die persoon sin maak van sy of haar hakkel. Holistiese ondersteuning fokus egter nie slegs op die hantering van hakkel nie, maar ook op die positiewe integrasie van hakkel in iemand se selfkonsep – ongeag die pyn of hartseer wat daarmee geassosieer word. Om dit te kan doen, word kennis benodig van die wyse waarop die verskillende dimensies van die persoon se selfkonsep tot uitdrukking kom.Die doel van hierdie studie was tweeledig van aard. Eerstens het dit gepoog om die selfkonsep van studente wat hakkel te verken en te beskryf deur middel van hulle belewing daarvan ten opsigte van die verskillende dimensies van die selfkonsep. Dit het aanleiding gegee tot 'n ruimer begrip van die wyse waarop die selfkonsep van die betrokke studente manifesteer in verskillende verhoudings. Tweedens het die studie ten doel gehad om meer holistiese wyses van ondersteuning te identifiseer en wat gevolglik gelei het tot die identifisering van sodanige ondersteuning binne die terapeutiese sowel as die onderrig- en leeromgewings.Ten einde hakkel as 'n menslike hoedanigheid te verstaan en te verduidelik, word van 'n kwalitatiewe benadering tot navorsing gebruik gemaak. Dit word ondersteun deur gefundeerde teorie as gekose navorsingsontwerp wat die induktiewe wyse van datagenerering en -analise beklemtoon. Die metodes van navorsing ten opsigte van datagenerering sluit in individuele onderhoude en 'n fokusgroep. Data is geanaliseer deur gebruik te maak van die konstante vergelykende metode. Die verkenning van die studente se selfkonsep op hierdie wyse het uiteindelik tot die identifisering van enkele determinante ten opsigte van intra- en interpersoonlike funksionering aanleiding gegee. Die twee prosesse van heling en verwonding betrokke in die vorming van die studente se selfkonsep illustreer hoe verhoudings tot die ondersteuning of selfs stigmatisering en gevolglike uitsluiting van hierdie studente bydra.ivDie verkenning van die verskillende dimensies van die selfkonsep van studente wat hakkel het die volgende aan die lig gebring: Dat die selfkonsep dien as uitdrukking van die studente se verband met hakkel op die drie verskillende vlakke van sielkundige funksionering, naamlik die:- Kognitiewe vlak: vervreemding van die outentieke self, persoonlike waarhede, transendensie en kongruensie- Affektiewe vlak: psigiese verwonding- Konatiewe vlak: kompensasie, isolasie en projeksie Spesifieke terapeutiese benaderinge kan moontlik heling bevorder by die student wie se selfkonsep broos blyk te wees weens die verwonding wat soms met hakkel gepaard gaan. Dit kan waarskynlik as 'n voorafgaande raamwerk dien vir die ontwikkeling van 'n enkele, meer omvattende behandelingsplan ter bevordering van 'n positiewe selfkonsep. Toeganklikheid ten opsigte van akademiese deelname vir studente wat hakkel behoort bevorder te word in 'n veilige en nie-bedreigende onderrig- en leeromgewing. Spesifieke wyses van ondersteuning in die konteks van die Universiteit Stellenbosch is voorgestel. Die uitsluiting van studente wat hakkel weens stigmatisering bring psigiese verwonding mee, wat gevolglik bydra tot die wyse waarop die student se selfkonsep tot uitdrukking kom.As navorser vertrou ek dat hierdie studie sal bydra tot 'n ruimer begrip van die selfkonsep van studente wat hakkel. Op so 'n wyse kan Opvoedkundige Sielkunde as vakgebied 'n agent van verandering wees, deurdat dit krities-reflekterende denke ten opsigte van die holistiese ondersteuning van studente wat hakkel, aanmoedig. Die teoreties gefundeerde gevolgtrekkings en aanbevelings in hierdie tesis kan dien as kennisraamwerk vir toekomstige navorsing op hierdie gebied.
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]