Verenigende Gereformeerde gemeente-Koelenhof : op reis van instandhouding tot gestuur-wees, die ontwikkeling van volhoubare plaasgemeenskappe
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: Die globale en plaaslike veranderende konteks van die kerk en die vermindering in die invloed van die kerk in die samelewing, noodsaak die kerk tot eerlike selfondersoek. Dit is vir die kerk belangrik hoe sy op hierdie verandering reageer, want dit het ‟n impak op die taak van die kerk in die wêreld. Hierdie navorsing wil help om ‟n gepaste reaksie te vind vir die VGK-Koelenhof op haar spesifieke konteks. Hoofstuk een gee ‟n uiteensetting van die navorsing wat die doel, motivering en metode betref. Hoofstuk twee lê die basis vir die hele navorsing wat gegrond is in die Drie-Enige God wat ‟n sturende God is (missio Dei). Daar word gevra hoe die lewe in die triniteit die roeping van die kerk bepaal en die gang van die wêreld beїnvloed. In hoofstuk drie word die kerk se verhouding tot die Drie-Enige God belig. Die kerk moet geloofsonderskeiding beoefen ten einde haar roeping te ontdek. Hierdie proses is ook belangrik vir die besluitnemingsprosesse van die kerk. Dit impliseer dat die kerk as gestuurde van God in ‟n persoonlike gemeenskap met Hom moet leef sodat die kerk sensitief genoeg kan wees vir sy stem en hul roeping kan ontdek vir hul spesifieke omstandighede. In die vierde hoofstuk word beklemtoon dat die kerk ook in verhouding tot die wêreld staan waarin sy leef. Om haar roeping werklik uit te leef, moet die kerk nie net na God se stem luister nie, maar ook na die konteks waarin die kerk haar bevind. Die kerk het in haar bestaan sedert Jesus Christus telkens voor nuwe uitdagings te staan gekom en het verskillend daarop gereageer. ‟n Gepaste reaksie van die kerk se kant vereis soms dat die kerk intern verandering benodig. Dit is die fokus van hoofstuk vyf. Daar word gefokus op die aard van hierdie verandering, veral die rol van die leierskap in die hele proses. Hierdie verandering behels in hoofsaak ‟n verandering van instandhouding na gestuur-wees. Die verandering of transformasie in die kerk kan nooit ‟n doel op sigself wees nie. Dit is met die oog op die transformasie van die samelewing. Die verandering moet die kerk help om teken en voorsmaak van die koninkryk van God te wees in die wêreld. En daarom is die titel van hoofstuk ses: Van missionale transformasie na gemeenskapstransformasie. Ten slotte word „n opsomming gegee van die resultate van hierdie navorsing.
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]