已收录 271075 条政策
 政策提纲
  • 暂无提纲
Beroepstres en streshantering by maatskaplike werkers wat betrokke is by intervensie met seksueel misbruikte kinders
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: Maatskaplike werkers kry daagliks te doen met seksueel misbruikte kinders en daar word spesifiek deur wetgewing en beleidsdokumente voorsiening gemaak vir hierdie intervensie. Sommige maatskaplike werkers is in diens van 'n spesifieke organisasie wat van hulle verwag om aan 'n spesifieke groep kliënte dienste te lewer. Die fokus van hierdie studie is gerig op maatskaplike werkers wat betrokke is by intervensie met seksueel misbruikte kinders. Dienslewering geskied in 'n emosioneel hooggelaaide omgewing waar die moontlikheid van beroepstres groot is. Beroepstres kan veroorsaak word deur faktore in die interne omgewing (individu), die eksterne omgewing (werk/omgewing) of in die aard van die werk. Die doel van hierdie studie was om begrip te ontwikkel vir beroepstres en streshantering by maatskaplike werkers wat betrokke is by intervensie met seksueel misbruikte kinders. Die navorsingsvraag vir die studie lui soos volg: 'Hoe word beroepstres ondervind en hanteer deur maatskaplike werkers wat betrokke is by intervensie met seksueel misbruikte kinders? Hierdie navorsingsvraag is aangespreek deur kwalitatiewe navorsing te onderneem. Die studie kan geklassifiseer word as verkennende en beskrywende navorsing. Twee- en-twintig maatskaplike werkers, werksaam by vyf organisasies wat spesifiek fokus op intervensie met seksueel misbruikte kinders in die Kaapse Metropolitaanse Gebied, is deur middel van 'n doelgerigte, nie-waarskynlike steekproef geselekteer.'n Profiel van deelnemers is saamgestel en semi-gestruktureerde een-tot-een onderhoude is benut om 'n gedetailleerde beeld te verkry van beroepstres en streshantering by maatskaplike werkers wat betrokke is by intervensie met seksueel misbruikte kinders. Hierdie onderhoude is aan die hand van 'n onderhoudskedule gevoer wat na aanleiding van die literatuurstudie saamgestel is. Die onderhoude is getranskribeer vir die doeleindes van data-analisering en aan die hand van Creswell (2009) se stappe geanaliseer. Sewe temas is geïdentifiseer, naamlik (1) perspektiewe op keuse van beroep, (2) dienslewering binne die konteks van 'n organisasie-struktuur,(3) oorsake van beroepstres, (4) manifestering van beroepstres, (5) implikasies van beroepstres, (6) voorkoming en hantering van beroepstres, en (7) ontwikkeling en groei van maatskaplike werkers. Hierdie temas is in subtemas en kategorieë verdeel en aan die hand van toepaslike narratiewe uit die onderhoude bespreek en met literatuur gekontroleer. Ten opsigte van elke tema is daar bepaalde gevolgtrekkings en aanbevelings gemaak. Daar is bevind dat maatskaplike werkers om verskeie redes in die veld van seksuele misbruik begin werk het, waarvan die meerderheid toevallig in hierdie veld begin werk het. Aangesien die intervensie in die konteks van 'n organisasie-struktuur plaasvind, is dit belangrik dat hierdie organisasies die verantwoordelikheid aanvaar vir werknemers se welstand, die nodige ondersteuning bied en hulpbronne/infrastruktuur voorsien. Daar is verder insig ontwikkel in watter faktore 'n oorsaak van beroepstres is, op watter wyses dit manifesteer en wat die implikasies daarvan vir die maatskaplike werker, gesin/huis/vriende en werkopset is. Daar is verskeie primêre, sekondêre en tersiêre strategieë wat benut kan word om beroepstres te voorkom of te hanteer. Dit blyk dat ondersteuning wat op verskeie vlakke aan die maatskaplike werkers gebied moet word, een van die belangrikste bevindinge in hierdie verband is. Laastens is die belang van ontwikkeling en groei van maatskaplike werkers in die veld van seksuele misbruik beklemtoon en verskeie wyses waarop dit kan geskied is geïdentifiseer. Aanbevelings is gemaak na aanleiding van die gevolgtrekkings van die studie. Die belangrikste aanbeveling is dat maatskaplike werkers wat betrokke is by intervensie met seksueel misbruikte kinders op verskeie wyses na hul eie welstand moet omsien. Daar moet verder ook ondersteuning ontvang word van die organisasie in wie se diens hulle is ten einde effektiewe betrokkenheid te verseker by intervensie met seksueel misbruikte kinders.
[发布日期]  [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别]  [学科分类] 
[关键词]  [时效性] 
   浏览次数:22      统一登录查看全文      激活码登录查看全文