Maatskaplike werkers se siening oor dienslewering aan pleegsorggesinne
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: Die dienste wat maatskaplike werkers in Suid-Afrika aan kinders en gesinne lewer, fokus veral op kinderbeskerming en statutêre werk wat hoofsaaklik pleegsorg ondersoeke op ʼn daaglikse basis inslui. Pleegsorg word wêreldwyd as een van die beste alternatiewe sorg opsies gesien vanweë die feit dat hierdie plasing gewoonlik binne die familie struktuur plaasvind.Maatskaplike beleid en wetgewing rig die dienste wat aan hierdie pleegsorggesinne gelewer moet word. Die Kinderwet 38 van 2005 verplig maatskaplike werkers om dienste aan pleegsorggesinne te lewer (Republiek van Suid-Afrika, 2005). Alhoewel pleegsorg wêreldwyd as een van die beste vorms van alternatiewe sorg beskou word, word dienslewering aan pleegsorggesinne in Suid-Afrika bemoeilik as gevolg van verskeie uitdagings.Hierdie studie ondersoek maatskaplike werkers in die Wes-Kaapse metropool en omgewing se siening oor dienslewering aan pleegsorggesinne. ʼn Literatuurstudie is gedoen om eerstens ʼn beter begrip te verkry oor die wyse waarop maatskaplike beleid en wetgewing dienslewering aan pleegsorggesinne rig. Tweedens is die benutting van ʼn ekologiese perspektief en gehegtheidsteorie asook die integrasie daarvan tydens pleegsorgdienslewering, uiteengesit. Laastens het die literatuurstudie pleegsorgdienslewering en uitdagings in die pleegsorg praktyk beskryf.Die studie volg hoofsaaklik ʼn kwalitatiewe benadering, alhoewel ʼn kwantitatiewe benadering ook gevolg is waar die identifiserende besonderhede van deelnemers aangevra was. Hierdie studie het van beide ʼn verkennende en beskrywende navorsingsontwerp gebruik gemaak om sodoende te verseker dat inligting, insig en omvattende beskrywings oor die ondersoek en resultate, deurgegee word. Daar is gebruik gemaak van ʼn semi-gestruktureerde onderhoudskedule om die onderhoude, wat met twintig deelnemers gevoer is oor maatskaplike werkers se siening oor dienslewering aan pleegsorggesinne, te rig en lei.Belangrike bevindings van hierdie studie is hoofsaaklik dat alhoewel beleid en wetgewing in Suid-Afrika pleegsorgdienslewering voorskryf en rig, die uitdagings in die pleegsorg praktyk, dienslewering beïnvloed. Hierdie uitdagings wat ervaar word, veroorsaak dat effektiewe en noodsaaklike dienste aan pleegsorggesinne nie gelewer word nie, wat tot gevolg het dat pleegsorgkinders en pleegsorgouers se regte moontlik geskend word aangesien die dienste waarop hul geregtig is dikwels nie gelewer word nie. Nog ʼn belangrike bevinding van hierdie studie is dat deelnemers aangedui het, dat daar nie voldoende gespesialiseerde opleiding oor pleegsorgdienslewering ontvang word nie, wat ook die kwaliteit van pleegsorgdienslewering moontlik kan beïnvloed. ʼn Verdere bevinding was dat deelnemers wat dienste by kinder- en gesinsorgorgansies lewer nie literatuur oor pleegsorgdienslewering integreer en benut nie vanweë uitdagings in die praktyk en onkunde oor literatuur.Maatskaplike werkers wat dienste aan pleegsorggesinne by kinder- en gesinsorgorganisasies in Suid-Afrika lewer, moet gespesialiseerde opleiding oor pleegsorgdienslewering ontvang wat die benutting van literatuur tydens pleegsorgdienslewering insluit. Die verantwoordelikheid rus op die staat om meer fondse beskikbaar te stel aan kinder- en gesinsorgorganisasies sodat daar meer maatskaplike werkers aangestel kan word om sodoende die uitdagings in die maatskaplike werk praktyk beter te bestuur en gevolglik kwaliteit pleegsorgdienste te verbeter om pleegsorgkinders en -gesinne se regte te beskerm en te bevorder.
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]