Stem van die gemarginaliseerde : 'n ondersoek na die konstruksie van die identiteite van die vroulike figure in die werk van E.K.M. Dido
[摘要] AFRIKAANSE OPSOMMING: E.K.M. Dido publiseer in 1996 haar eerste roman, Die storie van Monica Peters, en word so een van die eerste bruin vrouens wat ‟n bydra tot die Afrikaanse letterkunde lewer. In Dido se romans word daar altyd ‟n vrou as hooffiguur gestel, en dit is van belang om na die konstruksie van die identiteite van die vroulike hooffigure ondersoek in te stel. Die romans lig invloede op, en aspekte van, identiteit uit en demonstreer hoe kwessies soos identiteitsmerkers ‟n rol in die konstruksie van identiteit speel. Die konstruksie van die vroulike figure se identiteite wys op die veranderende aard van identiteit, en die stemme van die gemarginaliseerdes van die verlede word in twee van hierdie romans deur hierdie figure gehoor.Dido self skryf vanuit die posisie van die voorheen gemarginaliseerde. Deur die konstruksie van die hooffigure vind die gemarginaliseerdes van die verlede ‟n geleentheid om hul eie verhale te vertel, en so verbreek Dido die stiltes wat in die verlede geskep is. Die postkoloniale aard van Dido se romans speel ‟n ondermynende rol binne ‟n letterkunde wat steeds verteenwoordigend is van die magstrukture van die verlede. Die konsep van hibriditeit word uitgelig as een wat positief eerder as negatief is. So word daar byvoorbeeld ‟n nuwe perspektief op wit mense gegee, soos gesien deur die oë van die historiese ‟Ander‟.Die posisie van swart skrywers in die huidige Afrikaanse letterkunde is een wat ondersoek moet word en uiteindelik moet hierdie posisionering van swart skrywers herevalueer word. Daar is ‟n vraag na ‟n literêre geskiedenis wat verteenwoordigend is van al die stemme wat in die Afrikaanse geskiedenis teenwoordig is. Uiteindelik is dit nodig om te bepaal waar presies Dido in hierdie literêre sisteem geposisioneer is, en of haar stem as swart vroueskrywer werklik gehoor word.
[发布日期] [发布机构] Stellenbosch University
[效力级别] [学科分类]
[关键词] [时效性]